Perinthos

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Kaart met die posisie van Perinthos en ander stede naby die Bosporus.

Perinthos (Grieks: ἡ Πέρινθος}})[1][2] was 'n groot en florerende stad in Thracië. Dit was geleë by die Propontis. Volgens John Tzetzes het dit vroeër bekend gestaan as Migdonië (Μυγδονία). Dit was geleë 35 km wes van Selimbria, en 90 km wes van Bisantium, op 'n klein skiereiland[3] van die baai wat sy naam dra, en was gebou soos 'n amfiteater, op die helling van 'n heuwel.[4] Vandag is die antieke perseel geleë naby die moderne munisipaliteit "Marmara Ereğlisi" in Turkye.[5][6]

Geskiedenis[wysig | wysig bron]

Dit was oorspronklik 'n kolonie van Samos,[7][8] en volgens George Syncellus is dit omstreeks 599 v.C. gestig.[9] Die Duitse argeoloog Theodor Panofka dateer egter die stigting daarvan tot omtrent 1000 v.C., wat dit 'n tydgenoot maak van Samothrake. Dit was veral bekend vir die hardkoppige verdediging wat dit gebied het teen Philippos II van Masedonië.[10][11] Teen daardie tyd wou dit voorkom asof dit selfs 'n belangriker stad was as Bisantium, en die feit dat dit beide 'n hawe en 'n aanknopingpunt was vir verskeie paaie, het dit die setel van 'n uitgebreide handelsnetwerk gemaak.[12] Dit verduidelik waarom so baie van die stad se munte steeds bestaan, waaruit ons leer dat groot en gewilde feeste hier gehou is. Na die vierde eeu n.C. het dit die naam Heraclea of Heracleia (Ἡράκλεια) aangeneem;[13] dit word somtyds op sy eie gebruik, of saam met byvoegings soos Heraclea Thraciae en Heraclea Perinthus.[12][14]

Justinianus het die stad se ou keiserlike paleis en die akwadukte herstel.[12] Van Perinthos se munte bestaan steeds. Dit is deur Edith Schönert-Geiß bestudeer.[15] Die inskripsies van Perinthos en die literêre getuienis oor die stad is deur Mustafa Hamdi Sayar versamel.[16]

Stadsuitleg[wysig | wysig bron]

Die skiereiland en akropolis is aangevul deur die onderste stad en sy mure, waarvan sommige oorblyfsels gevind is.

Ander noemenswaardige plekke sluit in die 5de-eeuse basiliek wat in sy argitektuur blykbaar nou gekoppel is aan die kerkontwerpe van Konstantinopel. Die vloermosaïeke is besonder goed gemaak en bewaar.

Dit kom voor asof klip uit die basiliek gebruik is in die konstruksie van 'n toring wat bedoel was om 'n 1,9 m breë sekondêre hek te bewaak, waaruit afgelei kan word dat die basiliek 'n ruk tevore vernietig is, alhoewel die datum daarvan nie seker is nie. Argeoloë en historici van die Tekirdağ-museum, die Universiteit van Istanbul en die Universiteit van Heidelberg, is oortuig daarvan dat die kerk nie vir meer as ongeveer 150 jaar staande gebly het nie. Dit is nooit herbou nie, en in plaas daarvan vervang met 'n klein kapel.[17]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. Ptolemeus, Geographia, Vol. 3.11.6, 8.11.7.
  2. Xenophon, Anabasis, Vol. 7.2.8
  3. Plinius, Naturalis Historia, Vol. 4.18
  4. Diodorus Siculus, Bibliotheca Historica, Vol. 16.76
  5. Richard Talbert, red. (2000). Barrington Atlas of the Greek and Roman World. Princeton University Press. p. 52. ISBN 978-0-691-03169-9.
  6. Lund Universiteit, Digital Atlas of the Roman Empire
  7. Markianos. A Periplus of the Outer Sea. p. 29.
  8. Plutarchus. Qu. Gr. p. 56.
  9. George Syncellus. Chronicle. p. 238.
  10. Diodorus, Vol. 16.74-77
  11. Plutarchus. Phoc. p. 14.
  12. 12,0 12,1 12,2 {{cite book|author=Procopius, de Aed, bl. 4.9
  13. Tzetzes. Chil. p. 3.812.
  14. Procopius. B. Vand. p. 1.12.; Zosimus. Historia Nova. p. 1.62.; Iustinus. Historia Philippicae et Totius Mundi Origines et Terrae Situs. p. 16.3.; Eutrop. p. 9.15.; Amm. Marc. p. 22.2.; Itinerarium Antonini. p. 175, 176, 323.
  15. Schönert-Geiß, Edith (1965). Die Münzprägung von Perinthos. Berlyn: Akademie-Verlag.
  16. Hamdi Sayar, Mustafa (1998). Perinthos-Herakleia (Marmara Ereğlisi) und Umgebung. Geschichte, Testimonien, griechische und lateinische Inschriften. Wene: Verlag der Österreichischen Akademie der Wissenschaften.
  17. "Marmara Ereğlisi".

Koördinate: 40°58′15″N 27°57′16″O / 40.97089°N 27.95454°O / 40.97089; 27.95454